Feeds:
Bydraes
Comments

lee bottel

dit was die mooiste bottel
die lekkerste handeroom ooit!
maar…..
die handeroombottel is klaar
bietjie skeefhou
bietjie skud
daar is nog ‘n klein bietjie daardie laaste word uitgedwing

in die asblik lê ‘n bottel skeef onbruikbaar leeg

ek is nou daar
by die
bietjie skeefhou
bietjie skud
daar is nie eers meer ‘n klein bietjie daar

…?

© Hans Dreyer

          Jou merrie gaan dit nie maak nie
          haar vrag is te swaar

Die reunperd het dit lankal geweet
Saam met sy hawerpitte saans gevreet

Die dag se salpeter weggewerk
Met strelende hale van roskam en borsel
Staan hulle op stal
Runnikend roep hy na
haar
Troos hy
haar
In die nag se donker

Skrikwekkende Nagmerries wat aanhoudend vir hom sê

          Jou merrie gaan dit nie maak nie
          haar vrag is te swaar

angstig kap hy die stal se vloer
runnikend roep hy die boer
as die boer tog maar net wil luister
die boodskap wat hy runnikend fluister
          my merrie gaan dit nie maak nie
          haar vrag is te swaar

Dit gaan lankal nie meer klopdiselboom
met die twee karperdjies
‘n merrie en ‘n reun
vroegoggend in die tuig

          boudgooi teen die disselboom
          soos ‘n perd ongetem
          wou hy waarsku
          sy magteloosheid
          sy vrees uitskreeu

     die boer het dit misgekyk
     dis moedswilligheid van ‘n ontembare reun

eendag bultuit die merrie en haar reun
merrie se tree word onseker en kort

               sy struikel en val

die kar se vrag
te swaar vir die reun se krag
sleep altwee saam
bultaf na die draai
dis afgrond
dis seerkry
dis dood
bergaf by die draai

by die draai gaap die afgrond
dis seerkry
dis dood
vir die twee karperdjies
‘n merrie en ‘n reun

‘n klip langs die pad

© Hans Dreyer

Die hings word ‘n reun

die hings het ‘n grensdraad oorgespring
die vlaktes anderkant gaan verken
die wêreld is tog nie
deur enige grenslyn beperk

fier en trots kon niemand hom keer
die krag in hom was van die heer
die hings het die vreemde verken
‘n anders bewoorde genade geleer

—daar—

nuwe weiplek vir sy trop gevind
saam het hulle die grensdraad oorgespring

die boere kon dit nie hanteer
‘n dier
‘n hings
wat hom aan hulle reels nie steur

ten alle koste moet ons hom tem
die boere moes die perde leer
dat grensdrade heilig onbreekbaar is

die hings moes gebreek word as hy nie wou tem
die ander perde sal dan
binne die grensdrade gevang
saam met die boere kan stem

eenkant het hulle hom gevang
die fiere hings wat grensdrade spring
gebind met toue en reels het die boere hom teen die grond vasgesuig

          oorweldig deur mense
          magteloos op die grond

                    toe die burdizo knip
                    is die fierheid gebreek

die reun dwaal nou alleen
op die groen weivelde rond
grednsdrade oorgespring
maar sonder sy trop

© Hans Dreyer

Haelstorm

Ander se woorde
klagtes en
vrae
Kletter soos haelstene op die sinkmuur
van my kaja
Die storm bars deur die sinkplate

                     onherstelbaar gebuig

Binne maal die stormwater
            die fondamente uit

eenling binne
begin die modder my ondertoe trek
ek is onherstelbaar gebuig
die vernietigende krag van ander se
woede en
pyn

laat my wegsink in die modder
           gestroop van die brose kamma veiligheid
           van my kaja

© Hans Dreyer

Karperdjies

Dit gaan lankal nie meer klopdiselboooom
met die twee karperdjies
‘n merrie en ‘n reun

die reun het sy hotvoorpooot se skoen het verloor
die skerp klippe het hulle duiwelswerk gedoen
met die haaragterpoot loop hy mank

horse10

die merrie se een yster is los
dit kap iriterend uit pas
want dit gaan lankal nie meer klopdiselboooom
met die twee karperdjies
‘n merrie en ‘n reun

die tuie
eens blink en buigbaar geolie
het hard gewerk deur jare se son en reen
dit het grof gekraak en onbuigbaar geword
dit het die paartjie stukkende geskaaf
die twee karperdjies
‘n merrie en ‘n reun

hulle oe soek na mekaar
genadiglik is dit moontlik al klink dit onwaar
want die oogklappe het lankal afgeskeur
stukkend gewerk tussen takke en bos

die fluit uit die reun se keel
laat rol die merrie se oë verskrik

——-

die salpeter wit gevlek om sy bek
waai weg en word een met die merrie se traan

die merrie beur vooroor en trek nog harder
om die fluit uit die reun se keel te haal
die skaafwond om haar bors begin bloed te lek

die reun skrik verward by die ruik van die bloed
neus oopgesper beur hy na haar

met die raak kyk in haar oog
spits die twee se ore na mekaar
gelukkig is ons nog bymekaar
al klap die skoen en al skaaf die tuig

'n merrie en 'n reun

bo-oor die ongelyk klap van die disselboom
klap dit klopdisselboom
as die twee salpeter gewerkte skours
saam trek onder die tuig
die twee karperdjies
‘n merrie en ‘n reun

© Hans Dreyer

Vyand

vyand buite my kop
of…
verraaier in my kop
soos
slaggat in die pad
of..
slaggat in die gees
waar sou die grootste seerkry wees

die binneste die meeste pyn

gedurige verraad
van eie kop teen eie gees (vlees)
beskuldigend
kwetsend
afbrekend
vernederend

verflenterde seerkry mens
vrees dat ander
sy waardeloosheid sien

stert tussen die bene
‘n wegkruip hond
wat skaamteloos bedel
vir aandag
kopstreel of
vryf
die tjankgeluide vir aandag
klink smekend so
het ek iets verkeerd gedoen
is jy kwaad vir my
het jy my lief

© Hans Dreyer

Koplamp

die koplamp het sy korrel verloor
moes die wereld daarbuite verlig
maar het ingedraai na eie gesig
net donkerte daar
wat selfs die koplamp
se skynsel verdring

maar as daar
iemand hier voor my kom sit
word die koplamp se strale na buite versit

Selfs in die sieklike introspeksie van depressie kan ek daaruitkom en kan ek weer funksioneer.

© Hans Dreyer

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.